This is the first article in a series on the impact of the Covid-19 lockdown on medical practices and patients


 Terwyl die wêreld spook om die grootste gesondheidskrisis in meer as ‘n eeu die hoof te probeer bied, word plaaslike dokters se vermoë om lewensbelangrike sorg aan akute en chroniese pasiënte te verskaf en finansieël te oorleef sodanig aan bande gelê dat ‘n tweede gesondheidsramp in Suid-Afrika dreig. Die skielikheid waarmee die harde inperkingsmaatreëls in Maart ingestel is, die onsekerheid oor die verloop van die coronavirus se verspreiding, persepsies dat dokters se spreekkamers gevaarsones vir die virus is, hospitale se besluit om elektiewe operasies en nie-noodsaaklike sjirurgiese prosedures drasties te sny, en die besluit van sekere hoë-risiko spesialiteite om hulle deure toe te maak terwyl die pandemie hom uitwoed, het baie spreekkamers in spookkamers verander, en pasiënte en dokters in ‘n onhoudbare situasie geplaas.

“Dit is ‘n totale gemors,” sê Dr Angelique Coetzee, voorsitter van SAMA. “Ons is besig om ‘n perfekte storm te skep waar die piek van die COVID-19 pandemie, die onvermoë om die land se ander gesondheidslaste soos diabetes, hipertensie, MIV en TB  in die tyd behoorlik te bestuur, en die inperking se impak op praktyke se finansiële oorlewingsvermoë moontlik die reeds wankelrige gesondheidstelsel op dieselfde tyd gaan tref,”  waarsku Dr Coetzee.

Haar woorde eggo die waarskuwings wat 53 spesialiste en algemene praktisyns onlangs in ‘n brief aan President Cyril Ramaphosa verwoord het.

“Many patients without Covid-19 are not getting the treatment they require due to the hospitals being emptied for Covid-19 patients. Many of these patients are avoiding hospitals and having their out-patient appointments cancelled. Disruptions in regular prevention programmes, such as immunisation schedules for infants or sexual and reproductive health promotion will undercut our few hard-won health gains since democracy. Together these are steadily building up a backlog of health care that is potentially a crisis in itself.”

Volgens Dr Coetzee het die inperking moontlik gehelp om hospitale voor te berei vir die toppunt van die pandemie wat eers in September verwag word. Maar intussen sit duisende pasiënte, veral dié wat die vatbaarste is om ernstig siek te word en te beswyk aan die virus,  sonder lewensbelangrike sorg en medikasie. Die meeste GP praktyke het oopgebly, maar die getal pasiënte wat hulle op ‘n daaglikse grondslag gesien het, het drasties afgeneem. Hulle grootste werk nou is om herhaalbare voorskrifte vir chroniese medisyne uit te skryf en pasiënte wat inbel van raad te voorsien.

Dr Martie Landman het ‘n praktyk in Emmarentia in Johannesburg. Haar eens florerende praktyk sien sy nou net  sowat ‘n derde van sy gewone kwota daaglikse pasiënte. Die ander wil oor die foon raad hê of vra net vir voorskrifte.

“Mense met ernstige kwale kom nie, en ek vrees dat ons ‘n toename in sterftes gaan sien van ander oorsake as COVID-19. Dié week het ek ‘n vrou met ‘n breingewas gesien wat weke gelede al by ‘n spesialis moet uitkom. Pasiënte sal beter ingelig moet word oor die veiligheid van praktyke en die belangrikheid om hulle algemene praktisyns te gaan sien as hulle gesondheidsprobleme ondervind,” sê Dr Landman.

Persepsies hou pasiënte weg

Baie pasiënte is onder die indruk dat hulle net na spreekkamers toe moet kom as hulle vermoed dat hulle coronavirussiptome het of griep of verkoue om te toets vir COVID-19, sê Dr Coetzee. Die gewone roetine-bloedtoetse en ondersoeke word nie gedoen nie, en pasiënte wat in hierdie tyd ander gesondheidstoestande opdoen of daarmee sukkel, doen selfsorg in die hoop dat dit sal verbygaan. Ook in hospitale het elektiewe prosedures soos gastroskopieë, skanderings, knie- en heupvervangings en ander prosedures wat as nie-belangrik beskou in die ses weke van harde inperking feitlik tot stilstand gekom.

Telemedisyne

Hoewel die Raad op Gesondheidsberoepe (HPCSA) se verslapping van die telemedisyneregulasies verwelkom is, is daar nie veel aptyt onder sowel dokters as pasiënte om dit te gebruik nie, sê Dr Coetzee. Baie praktyke was glad nie gerat om skielik Skype en virtuele konsultasies te doen nie, terwyl veral ouer pasiënte dit nie wil of kan gebruik nie. Die meerderheid van Suid-Afrika se dokters is ook ouer as 50 en is nie vertroud met digitale telemedisyne nie.

Dr Coetzee sê die regte plek vir virtuele konsultasies is waarskynlik om pasiënte op te volg wat van COVID-19 herstel het.

Kubaanse dokters

Die ontplooiing van meer as 200 gesondheidskenners uit Kuba onder wie 100 mediese praktisyns  teen ‘n koste van meer as R300 miljoen het dokters warm onder die kiewe. SAMA het sedert hulle aankoms verlede maand, dit baie duidelik gestel dat dit onnodig was en dat Suid-Afrika meer as genoeg werklose en afgetrede dokters het om te help om die gapings in die staat se gesondheidstelsel te help vul.

“Die Kubaanse dokters gaan nie pasiënte fisiek ondersoek nie.  Hulle is hier om gesondheidswerkers wat van deur-tot-deur gaan om mense te toets, raad te gee en stelsels in plek te stel wat provinsies se hantering van die pandemie sal verbeter. Ons dokters het die kundigheid en die gewilligheid om dit te doen. Dit is ideale posisies vir afgetrede dokters wat jare se ondervinding het, maar vanweë hulle ouderdom ‘n hoër risiko het om ernstig siek te word,” sê Dr Coetzee.

Wat kan algemene praktisyns doen?

Maar kan algemene praktisyns iets doen hulle pasiënte terug te kry en te verseker dat hulle behoorlik behandel en bestuur word, in ‘n omgewing waar daar geen sekerhede is oor hoe die pandemie homself  gaan uitspeel nie? Beslis, sê Dr Coetzee. Dokters sal nou meer as ooit bereid moet wees om die kommunikasiekanale tussen hulle en pasiënte optimaal te gebruik. Hulle pasiënte moet weet dat spreekkamers veilig is om te besoek en dat dit noodsaaklik is dat hulle hulle GPs gereeld sien veral as hulle chroniese toestande het.

Spreekkamers moet verseker dat al die nodige veiligheidsmaatreëls ingestel is om sosiale distansiëring te handhaaf en dat dit gekommunikeer word aan pasiënte wat inbel. Moenie meer as twee pasiënte op ‘n slag in die wagkamer laat sit nie en moenie hulle families toelaat om saam in te kom as dit nie nodig is nie. Stoele moet minstens 1-1.8 meter uitmekaar staan en ‘n wasbak moet beskikbaar wees waar pasiënte hulle hande kan was as hulle in en uitgaan. In die spreekkamer self, moet die sosiale afstand tussen dokter en pasiënt gehandhaaf word tydens die konsultasie en wanneer ‘n fisieke ondersoek nodig is, is handewas, maskers en handskoene vir die dokter nie-onderhandelbare vereistes.  Die ontsmetting van stoele, beddens en ander toerusting na elke pasiënt se besoek is ook noodsaaklik.

“Hoë-risiko pasiënte wat nie-gekontroleerd is op behandeling nie, moet gevra word om in te kom as hulle inbel vir ‘n voorskrif sodat al die nodige toetse gedoen kan word,” sê Dr Coetzee.